Righardt Maree: Tjoppie se Weltevreden Tuindienste

Ek het my eie tuindienste besigheid waar ek kliënte se grasperke en randte sny en ook waar nodig en soos hulle vra, beddings onderhou.

Ek het ‘n uitdaging gehad om wiskunde te verstaan en my ouers het gereken dat ek op ‘n praktiese wyse meer kan leer. Dit is waar die idee begin het om my eie besigheid van die grond af te kry. Aanvanklik het ek begin om my oudste suster wat reeds getroud is, se gras te sny op weeklikse basis. Aan die begin het dit baie stadig gegaan om kliënte te kry, maar van Februarie hierdie jaar af het dinge begin spoed vang en het my besigheid vinnig gegroei. Ek het begin met geleende toerusting van my pa en stelselmatig my eie toerusting begin aanskaf soos wat ek geld verdien het. Een oom het vir my ‘n ou petrol grassnyer geskenk en as gevolg van daardie skenking het ek nou die vooruitsig om moontlik my eie trekker grassnyertjie te kan aanskaf. Ek het ook reeds my eie randsnyer en kleiner toerusting aangekoop.