Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag kommentaar ingedien teen die Departement van Basiese Onderwys se voorgestelde toelatingsbeleid vir gewone openbare skole wat in effek sal neerkom op die verengelsing van enkelmedium- Afrikaanse skole. Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, het dié voorgestelde beleid in Februarie vir openbare kommentaar gepubliseer. Die inwerkingstelling hiervan sal vêrreikende gevolge inhou vir die manier waarop skole hul eie toelatings- en taalbeleid mag bepaal.

Die voorgestelde beleid bepaal onder meer dat die Hoof van die Departement van Basiese Onderwys by magte is om die toelatingstydperk, asook die registrasieproses vir die skole in sy/haar provinsie vas te stel. Die beleid bepaal verder dat geen leerder toegang tot ’n skool geweier mag word as gevolg van die taalbeleid van die skool nie. Dit sal beteken dat enkelmedium- Afrikaanse skole gedwing kan word om leerders te akkommodeer wat nie Afrikaans kan verstaan nie.

Volgens Natasha Venter, AfriForum se bestuurder vir onderwyssake, blyk gedeeltes van hierdie beleid ’n doelbewuste aanval op enkelmedium- Afrikaanse skole te wees. “Leerders het die grondwetlike reg om in die taal van hul keuse onderrig te ontvang en dit is die Departement van Basies Onderwys se plig om seker te maak dat daar genoeg skole is om toe te sien dat daar uitvoering gegee word aan hierdie reg. Om bloot enkelmedium- Afrikaanse skole wat reeds genoeg Afrikaanssprekende kinders bedien te dwing om kinders wat nie die taal magtig is nie te aanvaar, is dus nie die oplossing nie. Die geskiedenis bewys dat waar Engels op Afrikaanse skole afgedwing word, dit uiteindelik tot gevolg het dat hierdie skole totaal verengels.”

Die sentralisering van mag oor skoleplasings in die Departement het volgens Venter reeds bewese nadelige gevolge vir skole ingehou. (Ouers se frustrasie met die aanlyn registrasieproses in verskeie provinsies is ’n sprekende bewys hiervan.) Hierdie beleid het ten doel om selfs meer mag aan die Departement te gee.

“Verder bots die voorgestelde beleid ook met bestaande wetgewing soos die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 wat groter outonomie aan skoolbeheerliggame gee as wat die voorgestelde beleid beoog. Dit kontrasteer ook met sekere provinsies se toelatingsbeleide, wat tot verwarring by skole en ouers kan lei oor watter reëls van toepassing is. AfriForum beywer homself vir groter onafhanklikheid van skole en was daarom genoop om hierdie beleid teen te staan,” sê Venter.

Om die kommentaar te lees, klik hier.