Deur Leandie Bräsler

Daar is baie kinders daarbuite wat hulle eie besighede het. Om met jou eie besigheid te begin het jy eerstens ’n uitstekende idee vir ’n besigheid nodig en tweedens ’n soliede besigheidsplan. ’n Besigheidsplan kan gekompliseerd raak, maar dit hoef ook nie te wees nie. Solank jou besigheidsplan ’n paar noodsaaklikhede bevat, het jy alles wat jy nodig het om te begin. Aangesien die Maart/April-vakansie hierdie jaar bietjie langer is as gewoonlik, maak sommer nou al van die ekstra tyd gebruik om aan jou besigheid te werk en maak seker dat jy vanaf 1 April tot 31 Julie 2020 vir AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Hierdie kompetisie word aanlyn gedryf op www.besigheidsbytjies.co.za en inskrywings is absoluut gratis. Laerskoolleerders en graad 8- en 9-leerders kan hiervoor inskryf! Daar is groot pryse op die spel!

In die vorige blog het ons wenke gedeel oor hoe jy jou besigheidsidee kan ontwikkel. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou besigheid kan beplan:

Deel 2: Beplan jou besigheid so

1 Stel vas of jy werknemers nodig het

In die meeste gevalle sal jy waarskynlik jou eie besigheid bedryf, al is dit net in die begin. As jy addisionele hulp benodig om jou besigheid saam met jou te bedryf, sal jy die koste/uitgawe so laag as moontlik wil hou.

  • As jy ’n boetie of sussie het wat bereid is om jou te help, is dit ’n goeie begin.
  • Jy sal jou winste moet deel, dus moet jy besluit hoeveel en wanneer jou werknemers betaal sal word.

2 Maak ’n lys van die voorraad wat benodig word om aan die gang te kom 

Skryf neer hoeveel elke item op jou lys kos en bring die totale koste in berekening. Hierdie is jou beraamde aanvangskoste. As die aanvangskoste hoër is as jou huidige kapitaal, gesels met jou ouers of met iemand in jou familie om dalk in jou besigheid te belê.

  • Jy kan ook vir jou ouers vra of hulle dit sal oorweeg om ’n gedeelte van jou toekomstige sakgeld vir jou te gee as “saadjie”-geld om jou besigheid mee te begin.
  • As jy vir hulle ’n soliede besigheidsplan gee, sal hulle dalk meer bereid wees om jou te help. Daarom is dit belangrik om te weet waarheen jy gaan en wat jy wil bereik.

3 Lys die lopende uitgawes wat jy verwag

As jy byvoorbeeld ’n grasperkversorgingsbesigheid begin waar jy mense se gras sny, het jy ’n plan nodig om jou lopende uitgawes te dek, soos brandstof om jou grassnyer te laat werk. As jy enige werknemers het wat jy moet betaal, moet dit ook by jou lopende uitgawes gevoeg word.

  • Wanneer jy jou lys van lopende uitgawes optel sal dit vir jou ’n goeie idee gee van wat dit jou in totaal gaan kos om jou besigheid aan die gang te hou.
  • ’n Ander voorbeeld is wanneer jy byvoorbeeld koekies bak om te verkoop – jy sal dan die totaal moet uitwerk van wat al jou bestanddele jou gaan kos en hoe gereeld jy bestanddele moet aankoop.

4 Besluit hoeveel jy vir jou produk/diens gaan vra

Dink aan hoeveel dit jou sal kos om jou produk te maak of om jou diens te lewer. As jy ’n wins wil maak, moet jy meer vir jou produk/diens vra as wat dit jou gaan kos om dit te maak/te lewer. As jy byvoorbeeld ’n dosyn koekies verkoop, moet jy eers uitvind hoeveel dit jou sal kos om ’n dosyn koekies te maak:

  • Kom ons sê dit kos jou R10 om ’n dosyn sjokoladekoekies te maak – jy sal dit vir meer wil verkoop sodat jy ’n wins kan maak.
  • Jy moet ook die tyd wat dit jou sal neem om jou produk te maak/om jou diens te lewer, in berekening bring. Jy kan dan ook pryse uitwerk oor hoeveel wins jy graag sal wil maak. Jy moet ook die tyd in berekening bring waarvoor jy nie betaal word nie, soos byvoorbeeld om jou besigheid te adverteer of om na ’n kliënt se huis te gaan – soos jou vervoer.
  • As dit jou ’n halfuur neem om sjokoladekoekies te maak, soos hierbo genoem, en ’n verdere halfuur om dit te verkoop, sal jy ’n bedrag moet vra wat sal opmaak vir die tyd wat jy aan die produk spandeer. Jy kan jou uurlikse loon uitwerk deur jou geld te verdeel vir ’n projek of produk (minus jou uitgawes) deur die hoeveelheid tyd wat daar spandeer word om daaraan te werk.
  • In hierdie geval, as jy R25 vra vir ’n dosyn koekies, sal jy R15 maak vir die uur wat jy spandeer het om dit te maak en om dit te verkoop.
  • Trek jou uitgawes van jou inkomste af om jou winsbedrag te kry.

Laai gerus AfriForum en AfriForum Sakenetwerk se Besigheidsbytjiegids gratis af, en dan kan jy solank aan jou besigheidsplan begin werk.