Ouderdom: 6
Fase: Grondslagfase
Graad: 1
Skool: Laerskool Newton Park
Provinsie: Oos-Kaap

Immie’s Gifts

Toe ek vyf was, het ek vir mamma gesê ek wil my eie winkel hê waar ek geskenke kan verkoop, want almal hou van geskenke. Ek het in Februarie 2022 my eerste twee “Twiggy pots” gemaak en verkoop aan Mamma se vriendin. Die “Twiggy pots” het ek gemaak van afvalstukke eikehout wat ek in my pappa se werkswinkel gekry het. Dit is blokkies hout waarin ek glas proefbuisies in ‘n gaatjie sit met vars of gedroogde blomme in die proefbuisies. Ek pluk “Bunny-tails” wat oral in ons buurt in die veld groei en droog dit dan uit en sit dit in die glas proefbuisies om dit mooi te laat lyk. Ek bind die “Bunny-tails” ook in bondeltjies om apart te verkoop. Daar is nog iets wat ek graag wil maak. Ek wil mooi raampies uit die eikehoutblokkies maak waarin kinders of grootmense se kuns of fotos gesit kan word. Dit sal kan hang aan ‘n muur of kan staan op ‘n tafel. Dit gaan maklik wees vir my om te maak, want Mamma of Pappa sny die houtblokkies vir my met die saagmasjien en dril die gaatjies, en dan kan ek vernis aan die blokkies verf, die magnete vasgom en toutjies inryg en knoop vir die raampies wat kan hang. Ek het laasjaar in Mei my eerste stalletjie gehad by ‘n kindermark, en daarna is Immie’s Gifts se produkte by drie winkels in ons stad beskikbaar. Einde van laasjaar het ek by ‘n Kersmark by mamma se werk my produkte uitgestal. Daar is ‘n paar mense in ons buurt wat vir my proteas uit hulle tuine skenk voor spesiale dae soos Moedersdag of die mark dae. Dit laat die Twiggy Pots baie mooi lyk. Behalwe vir die “Twiggy pots” en gedroogde “Bunny Tail” bossies, maak ek ook sjokolade fudgekoekies wat by een van die winkels te koop is. Immie’s Gifts het ietsie vir almal, of jy nou ‘n kind of ‘n grootmens is.

Picture14