Zané Bekker (21) van Roodepoort in Gauteng het haar tuisnywerheid, Something Nice, in 2020 tydens die inperking begin. Hierdie onderneming het vanjaar sy vierde verjaarsdag gevier en het al heelwat in hierdie paar jaar bereik.

In 2022 het Something Nice aan die Besigheidsbytjies- en Juniorpreneurskompetisie deelgeneem en met die VOO-fase se eerste prys weggestap. Hierdie prestasie is net een van die vele hoogtepunte vir Zané en haar span. Die onderneming het al meer as elf troukoeke gebak en gaan nou al vir die derde opeenvolgende jaar Hoërskool Florida se teetuin tydens die Jeug oor Kultuur- (JOK-)fees hanteer.

Op Wêreldradiodag is verskeie van Something Nice se produkte na verskillende radiostasies in sowel Pretoria as Johannesburg gestuur. Hierdie blootstelling het gehelp om die handelsmerk se gewildheid te verhoog en ’n groter kliëntebasis te bereik.

Zané se liefde vir bak het al op ’n jong ouderdom begin toe sy en haar ouma Poppie lekkernye soos soetkoekies en Peppermint Crisp-terte gebak het. Haar grootste inspirasie om ’n entrepreneur te word was haar ouers, Attie en Leoni. “My ouers is die hardwerkendste mense wat ek ken. Hulle pak alles altyd met soveel liefde en omgee aan. Ek het al soveel dinge by hulle geleer wat ek self in my eie onderneming kan toepas,” sê Zané.

Besoek gerus Something Nice se Facebook- en Instagram-blad of kontak hulle by 071 422 6786.