Deur Salòme Fourie

Ek is ’n entrepreneur en geniet dit om met mense te werk. Ek is ook sportief en presteer goed in my akademie. Ek is gebore en getoë in Bethlehem en is tans in een van die beste hoërskole in die dorp. Op 14-jarige ouderdom (ek word amper 15) kan ek met trots noem dat ek reeds my eie sakeonderneming het waarmee ek in 2020 begin het.

Op ’n stadium was ek amper moedeloos weens die uitdagings van daardie tyd. My oudste suster, wat self ’n suksesvolle entrepreneur op skool was, het my egter geïnspireer en gemotiveer om in haar voetspore te volg. Nou, ná vier jaar, groei my sakeonderneming steeds elke jaar met nuwe idees en produkte.

Toe ek in die laerskool was, het ons elke Maandag ’n entrepreneursdag gehad. Aanvanklik was ek huiwerig om deel te neem, maar my ma het my gemotiveer om aan die gang te kom. Ek het begin met die verkoop van verskeie lekkers, aangesien ons net ’n kort tydjie gehad het om te verkoop. Later het ons ook tuisgemaakte versnaperinge bygevoeg. Nou, ná vier jaar, sien ek uit na elke nuwe kliënt en die uitdagings van elke nuwe jaar. Ek het reeds raad gegee aan vriende wat ook entrepreneurs wil word. Volwassenes is dikwels verbaas oor my idees en die verskeidenheid produkte wat ek beplan om te bemark en verkoop.

Het my sakeonderneming gegroei? Ja, natuurlik! Elke jaar verkoop ek nuwe produkte wat meer gewild is as die vorige jaar. In 2020, as gevolg van Covid-19, het my sakeonderneming gesukkel om aan die gang te kom weens verskeie regulasies en die inperkings. Dit was wel nie die einde nie, want in 2021 het dit weer begin groei. Ek het onder begin, maar het my met nuwe idees opgebou en net aangehou.

My produkte behels onder meer kolwyntjies, Zoom-koeldranke, alkaliese water, suigstokkies, makrolle en sorbet.

Indien iemand my sakeonderneming wil ondersteun, kan hulle ’n e-pos stuur na salomefourie08@gmail.com.