Deur Leandie Bräsler

Tydens AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie vanjaar was daar weer hope talent! Leerders van regoor Suid-Afrika – en vanjaar ook van ander dele van die wêreld – kon vir hierdie aanlyn entrepreneurskompetisie inskryf.

Daar is verskeie kategorieë wat vir leerders van graad 1 tot graad 12 ’n platform bied om vir hierdie kompetisie te kan inskryf. Vanjaar was daar ook twee splinternuwe kategorieë, naamlik die Saai-kategorie (vir leerders met ’n liefde vir landbou) en die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaanse leerders in die buiteland met ’n liefde vir sake).

Die Korf het besluit om by vanjaar se wenners en naaswenners te gaan aanklop en te hoor hoe dit voel om as koning- en koninginbye gekroon te wees.

Wenners: Grondslagfase – Bin Brothers (Joshua en Noah Smith)

Ons onderneming is om die buurt se vullisdromme te was en te ontsmet nadat die rommel op Vrydae verwyder is. Ons neem dit dan terug na die onderskeie eienaars se huise. Ons verkoop ook swartsakke en verpakkingsakkies. Vir belangstellendes laat ons ook nommers vir hul vullisdromme druk.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/joshua-en-noah-smith/

Die twee boeties van Bin Brothers is vreeslik opgewonde omdat hulle gewen het. Joshua (9) sê dat dit lekker voel dat hulle gewen het en dat hy vreeslik opgewonde is. Met die prysgeld gaan hy vir homself ’n fiets koop en met sy kleinsakeonderneming voortgaan om dit te laat groei. Joshua se boetie, Noah (7), is net so opgewonde dat hulle gewen het. Hy sê: “Ek gaan my geld spaar, my onderneming laat groei en ek gaan ná matriek ’n ingenieur word.”

Naaswenner: Grondslagfase – Fluffy Friends (Carla-Mae van der Merwe)

Fluffy Friends fokus op die sagte, laat-jou-goed-voel-idee en ’n diertjiemaatjie wat jy oral saam met jou kan neem. Die sagte diertjies word van verskillende materiale gemaak wat ’n lekker tekstuur vir verskillende handjies is. Die diertjies laat ons kindertjies veilig en spesiaal voel.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/carla-mae-van-der-merwe/

Carla-Mae (8) sê sy is baie opgewonde en voel soos ’n bytjie wat gereed is om hard te werk om ’n verskil te maak nadat sy as naaswenner aangekondig is. “Ek gaan my geld eers spaar en presies beplan wat ek daarmee gaan doen. ’n Gedeelte sal definitief in my en my sussie se onderneming belê word, ’n klein deeltjie om myself mee te bederf en die res sal ek spaar. Ek wil graag ’n verskeidenheid Fluffy Friends maak en sal baie daarvan hou as dit in groot handelsname verkoop word. Ek wil eendag graag my eie groot onderneming hê, en sal ook daarvan hou om te dans en ’n professionele gimnas te wees.”

Wenner: Intersenfase – Jana’s Homemade Mint Cordial (Jana Geldenhuys)

Die produk wat ek verkoop, is 500 mℓ-bottels wat met Mint Cordial gevul is. Dit is ’n gekonsentreerde stroop wat aangemaak word  deur een deel stroop word met ses dele vonkelwater of Sprite gemeng. Die drankie word met ys, ’n suurlemoenskyfie en kruisementblare aangebied (soortgelyk aan die manier waarop Kola Tonic aangemaak word). Die drankie kan heerlik by die huis geniet word of as ’n verwelkomingsdrankie by ’n partytjie bedien word. Ek is al so bevoorreg dat my stroop selfs by koffiewinkels op hul spyskaart beskikbaar is.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/jana-geldenhuys/

Volgens Jana (11) is dit ’n groot voorreg en baie lekker om die wenner van hierdie kompetisie te wees. Sy het haar kleinsakeonderneming drie jaar gelede met R400 begin wat sy as geskenk ontvang het. Met haar eerste wins het sy vir haarself ’n groot boks Lego gekoop. Daarna het sy besluit om eerder haar geld te spaar vir wanneer sy eendag iets spesiaals vir haarself wil koop. Sy gaan haar wengeld daarby voeg.

“Kom ek vertel eers waar alles begin het,” vertel sy. “Die kruisementstroop is ’n resep wat my mamma al ’n paar jaar lank maak. Sy bedien dit graag as ’n verwelkomingsdrankie as sy gaste kry. Aan die einde van my graad 2-jaar het ons ’n paar bottels as ’n dankie-sê-geskenk vir ’n paar van my onderwyseresse gegee. Meer as die helfte van hulle het my mamma gevra waar sy dit gekoop het, want hulle wou graag nog daarvan in die hande kry, en so het Jana’s Homemade Mint Cordial tot stand gekom. My kruisementdrankie was al by ’n paar markte en op die rak in DemZa-winkels te koop. Dit is ook vir my heerlik dat my drankie al in twee koffiewinkels op hul spyskaart bedien word. Oor tien jaar is ek al 21; ek hou daarvan om groot te droom. Wie weet? Dalk word my drankie nog ’n bekende drankie regoor Suid-Afrika! Ek het al beroepe soos ’n juffrou, ’n veearts, ’n aktrise en ’n argitek oorweeg, maar tans klink dit vir my lekker om ná skool by ons familiebesigheid, DemZa, te gaan werk. Hopelik is my besigheidjie dan al lekker aan die gang, sodat ek ander kinders finansieel kan help en so ook vir hulle geleenthede kan gee.” 

Naaswenner: Intersenfase – Mienke Meel (Mienke Maritz )

Ek bak koeke en kolwyntjies vir verjaarsdae en spesiale geleenthede volgens jou tema. Ek bak graag saam met kleiner kinders en help hulle om hul spesiale verjaarsdagkoek te bak.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/mienke-maritz/

Mienke (11) is baie bly dat sy gewen het en sy voel trots op haarself. Sy gaan haar prysgeld vir eers spaar, want sy wil eendag vir haarself ’n motor koop. Sy sien haarself oor tien jaar op ’n blommeplaas met haar eie koffiewinkel, waar sy natuurlik haar eie koeke gaan bak.

Wenner: Senior Fase – Supreme Skin Care (SSC) (Dene Scherman)

Ek gaan velsorgprodukte maak wat jong meisies help en leer hoe om na hulle vel om te sien. Daar sal produkte soos dag- en nagroom wees. Die dagroom sal ook sonskerm bevat om jou gesig teen die son te beskerm. Ek is self ’n jong meisie en sien daagliks hoe jong meisies met hul vel sukkel. Ek wil graag jong meisies help en leer hoe om na hul vel om te sien. Ons gebruik ook net natuurlike produkte en alles is omgewingsvriendelik.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/dene-scherman/

Dene (13) sê sy voel baie bevoorreg om die kompetisie te kon wen en sy is baie trots op dit wat sy bereik het. Sy gaan haar wengeld in haar kleinsakeonderneming belê, maar sy gaan haarself ook bietjie bederf deur’n skootrekenaar vir haarself te koop. Haar toekomsdrome is om ’n mediese beroep te volg – sy wil ’n dokter word. Haar droom stop nie net daar nie; sy wil ’n dokter en entrepreneur word om jong meisies te leer om hul vel mooi op te pas. Sy wil ’n bekende naam in velsorg word.

Wenner: VOO-fase – Something Nice (Dedré Bekker)

Ons is ’n klein tuisnywerheid in die Wes-Rand-omgewing. Ons is bevoorreg om daagliks produkte te maak wat ’n glimlag op mense se gesigte sit, of dit nou ’n koek vir ’n verjaarsdag, spesiale geleentheid of troue is. Ons bak daagliks op bestelling en gebruik slegs die varsste en beste bestanddele. Ons is baie trots op elke bestelling wat uit ons kombuis gaan en geniet elke minuut van wat ons doen. Ons gereelde kliënte is vir ons ’n bewys van tevredenheid. Meer as 200 melkterte word maandeliks by twee slaghuise in ons area verkoop. Ons maak produkte spesiaal volgens ons kliënt se behoeftes, terwyl se mededingers se kliënte die produk moet vat wat beskikbaar is. Ons het só ’n wye reeks van produkte wat ons maak dat ons ’n eenstopdiens kan bied.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/dedre-bekker/

Dedré (17) se hart loop oor van dankbaarheid om te weet dat haar ure en ure se harde werk oor die laaste drie jaar nie ongesiens verbygaan nie. Hoewel haar familie en kliënte haar ongelooflik ondersteun, is dit vir haar lekker om te weet dat ’n organisasie soos AfriForum daar is vir ons land se jeug om entrepreneurskap te bevorder en om hulle daarvoor te beloon. Met die prysgeld het sy reeds vir haar ’n lasersnymasjien, lasergraveerder asook materiaal van R5 000 aangekoop. “Dit gaan my help om my eie versierings vir my koeke uit te sny en sodoende meer wins te maak. Die ander R5 000 hou ek in my bankrekening aangesien kontantvloei baie belangrik is.” Haar toekomsdrome is ook groot, want sy sal graag eendag haar eie koffiewinkel met ’n mooi tuin en speelplek vir kinders wil hê waar sy daagliks ook vars lekkernye sal verkoop (’n huis met ’n tuin). “Ek wil graag BCom Ondernemingsbestuur by Akademia studeer en later kortkursusse vir fynere baktegnieke neem.”

Naaswenner: VOO-fase – Fraai Collective (Cameryn Linde)

Fraai Collective lewer ’n verskeidenheid van handgemaakte juwele. Ek maak self al die juwele, wat oorbelle, haarknippies, armbandjies, hangertjies en ringe insluit. Die produkte word meestal met pêrels of uit klei gemaak. Die pêreljuwele is baie gewild onder bruide. Ek koop al my gereedskap en benodigdhede aan wat ek gebruik om die juwele mee te maak, maar ek ontwerp ook self en sit dan alles bymekaar om die juwele te maak.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/cameryn-linde/

Cameryn (18) het met selfvertroue aan vanjaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie deelgeneem, maar was baie verras en opgewonde toe sy hoor dat sy een van die wenners is. Sy gaan ’n gedeelte van haar prysgeld gebruik om ’n staander te koop om die uitstalling van haar juwele te vergemaklik. Die res van die prysgeld sal sy spaar om haar kleinsakeonderneming later verder uit te brei. “Ek beplan om ’n aanlyn winkel te begin, waar ek my eie reekse kan uitbrei en bemark. Ek sal graag ook juwele op groot skaal aan ander sakeondernemings wil verskaf. Ek beplan om ná skool ’n kursus in digitale bemarking en ’n kwalifikasie in die ontwerp en maak van juwele aan te pak.”

Wenner: Saai Laerskool – PJ Scott Boerdery (Pieter Scott)

Ek plant groenmielies en verkoop dit dan in Brandfort. Ek plant die mielies op ’n stukkie landery op ons plaas wat my pa vir my gegee het. Wanneer dit droog is, maak ek seker dat die mielies besproei word.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/pieter-scott/

Pieter (13) voel baie trots en dankbaar dat hy gewen het. Hy gaan sy prysgeld spaar en dit in sy kleinsakeonderneming belê. Sy toekomsplanne is om eendag ’n groot saaiboerdery te hê, waar hy met mielies en sonneblom sal boer. “Ek wil graag landbou-ingenieurswese studeer en daarna wil ek boer.”

Naaswenner: Saai Laerskool – Wiggle Worms (Justin Kemp)

Ek is ’n vermikultuurboer. Ek verskaf vermiplase aan seuns, soos ek, wat ook graag op klein skaal (in die stad) met wurms en groente wil boer. Ek verskaf ook die opsie dat hulle my produk in ’n boks kan koop en so deel van die Wiggle Worms-gemeenskap word. Ek verskaf ook handleidings en werkboekies vir kinders wat graag meer wil leer, of take moet voltooi. Besoek gerus my webtuiste vir meer inligting oor hierdie produkte,: www.wiggleworms.co.za
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/justin-kemp/

Volgens Justin (12) was hy baie verbaas om te hoor dat hy as naaswenner aangekondig is, maar hy is baie dankbaar. Hy gaan sy prysgeld gebruik om in sy kleinsakeonderneming terug te ploeg. Hy verkoop ook sy wurms, wurmtee en groenteplantjies by markte. By dié markte het hy ook ’n waterwurm wat vermaak vir die kinders bied. Hy is opgewonde oor alles wat met wurms by markte te doen het. “Oor tien jaar is ek 22 en teen dan sal ek honderde ander stadskinders wat entrepreneurs soos ek is, wil help om wurm- en groenteboere te word. Ek sien Wiggle Worms-produkte op Takealot, in AgriMark, Plantland en sommer orals. Alles produkte van kinders wat vermikultuurboere soos ek is! Ek weet nog nie presies wat ek ná skool wil doen nie, maar dit sal iets wees waar ek met vuil vingers en kaal voete die baas kan wees – soos ’n boer! Miskien sal ek ’n boer wil wees wat soms stokkies draai, aangesien daar soveel interessante prosedures is waarmee jy werk.”

Wenner: Saai Hoërskool – Veggies4U (Juan Nel)

Ek verkoop groente aan familie, vriende en die gemeenskap. My groente is vars uit die grond, gewas en mooi verpak. Geen ander middels word bygevoeg om dit vinniger te laat groei nie. My groente is makliker bekombaar en bekostigbaar.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/juan-nel-2/

Juan (16) sê hy was uit sy vel en baie opgewonde, en dat dit vreeslik goed en lekker voel om wenner van die Besigheidsbytjies-kompetisie te wees. “Ek spaar ’n gedeelte van die prysgeld en die res ploeg ek terug in my onderneming in om dit uit te brei. My onderneming gaan baie suksesvol wees en ek gaan nie net my gesin, familie en gemeenskap bedien nie, maar ons stad ook. Ek beplan om ná skool ingenieurswese te gaan studeer en my onderneming verder uit te brei.”

Laerskool: AfriForum Wêreldwyd – Liplekkerlollies (Christo Esser)

Ek is mal oor roomysstokkies of yslollies, en wou graag dit self maak met die geure waarvan ek hou, sonder enige onnodige suiker en preserveermiddels soos in sommige van dié wat ’n mens in die winkel kry. Dit is ’n produk wat ek in my nabye omgewing kan verkoop, dit is iets waarvan almal sal hou, oud en jonk! Dit is bekostigbaar, nie ongesond nie en die verpakking neem die omgewing in ag!
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/christo-esser/

Christo (10) woon in Skotland en hy was baie bly en trots toe hy die nuus gekry het dat hy die wenner van AfriForum Wêreldwyd se entrepreneurskategorie is. “Ek het vir my vriende vertel en dit was lekker om aan ’n kompetisie in Suid-Afrika te kon deelneem, selfs al woon ons in die buiteland.” Hy is nie heeltemal seker wat hy met sy prysgeld gaan maak nie, want dit is nou eers winter by hulle. Hy sal dalk ’n paar nuwe dinge vir sy onderneming koop as dit weer somer is. Die res van die geld sal hy spaar. “Hierdie onderneming is ’n goeie leerskool, want dit leer my die basiese dinge van entrepreneurskap (navorsing, bemarking, begrotings en so meer). Ek sal graag my stalletjie by meer plekke wil sien en ook my afleweringsdiens wil verbeter en uitbrei. Ek sal dalk ook ander goed wil doen soos om programmeringsklasse vir vriende aan te bied – of enigiets met rekenaars te doen! Ek wil graag programmering studeer, want ek sal daarvan hou om rekenaarspeletjies te ontwikkel!”

Hoërskool: AfriForum Wêreldwyd – Little Sketchy (Marcelle Bodenstein)

Ek is kreatief en help ander jong, ideëryke entrepreneurs soos myself om hul eie handelsmerke te ontwikkel wat uniek en enig in sy soort is. Ek bied dienste vir grafiese ontwerp en illustrasies aan.
Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/marcelle-bodenstein/

Marcelle (17) woon in Namibië en sy is vreeslik opgewonde omdat sy die wenner van AfriForum se Wêreldwyd-kategorie is. Sy voel geseënd omdat daar soveel nuwe geleenthede vir haar is en sy is dankbaar vir elkeen wat haar gehelp het om haar onderneming te begin en in haar geglo het. Sy gaan ’n skryftablet met ’n pen met haar prysgeld koop, want dit sal haar help om haar illustrasies vinniger en meer konsekwent te maak. Dit sal haar ook help om nuwe tegnieke en maniere aan te leer om haar onderneming te verbeter. “Oor tien jaar van nou af sal ek daarvan hou om my eie ateljee te hê, waarin ek skeppend kan wees en werk. Dit sal vir my wonderlik wees om van my eie illustrasies in kinderboeke en in advertensies te publiseer. Ná skool wil ek graag soveel moontlik van my talente verken, sodat ek dit kan ontwikkel en op ’n nuttige manier kan gebruik.”

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting oor AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie.