Deur Leandie Bräsler

Daar is baie kinders wat hul eie besighede bedryf. Om met jou eie besigheid te begin, het jy eerstens ’n uitstekende idee nodig en tweedens ’n doeltreffende besigheidsplan. ’n Besigheidsplan kan ingewikkeld wees, maar dit hoef nie te wees nie. Solank jou besigheidsplan ’n paar noodsaaklikhede bevat, het jy alles wat jy nodig het om te begin. Aangesien die Maart/April-vakansie dié jaar ’n bietjie langer is as gewoonlik, kan jy sommer nou al van die ekstra tyd gebruik maak om aan jou besigheid te werk. Maak ook seker dat jy tussen 1 April en 31 Julie 2020 vir AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Dié kompetisie word aanlyn op www.besigheidbytjies.co.za aangebied en inskrywings is heeltemal gratis. Laerskoolleerders en graad 8- en 9-leerders kan hiervoor inskryf en daar is groot pryse op die spel!

In die vorige blogs het ons wenke gedeel oor hoe jy jou besigheidsidee kan ontwikkel en jou besigheid kan beplan en hoe jy jou besigheid moet bemark. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou besigheidsplan kan neerpen:

Deel 4: Pen jou besigheidsplan op papier neer

  1. Skep ’n voorblad met jou besigheid se naam en ’n kort beskrywing daarvan.

Dit sal jou eerste bladsy wees. Skryf jou besigheid se naam boaan die papier en skryf dan ’n paar spasies ondertoe die beskrywing van jou besigheid neer – dit wil sê ’n kort paragraaf wat jou besigheidsidee en doelstellings beskryf. Mik vir vyf tot ses sinne. Indien jy reeds ’n besigheidshandelsmerk (Engels: logo) het, kan jy dit ook op die voorblad sit.

  • Skryf jou besigheid se naam in groot vetgedrukte letters neer of gebruik ’n groot lettertipe (Engels: font) op jou rekenaar en plaas die naam in vetdruk (Engels: bold). Jou besigheid se naam is die belangrikste deel op hierdie bladsy.
  • Die beskrywingsparagraaf kan in ’n normale lettergrootte (12) en -tipe wees.
  1. Begin bladsy 2 met die bestuur en geskiedenis of agtergrond van jou besigheid.

Skryf een tot twee sinne wat beskryf wie die besigheidseienaar is (dit is nou jy) en die bestuurspan (jou werknemers, indien jy het). Skryf dan twee tot drie sinne oor jou besigheid se geskiedenis of agtergrond. Aangesien jou besigheid splinternuut is, sal jou geskiedenis handel oor hoe jy met jou besigheidsidee vorendag gekom het en ook waarom dit belangrik is.

  • Eienaar-/bestuursvoorbeeld: Hennie se Hondedagsorg word deur Hennie Groenewald besit. Hy beskik oor ’n paar jaar van ondervinding om mense se troeteldiere op te pas en is mal daaroor om na honde om te sien.
  • Besigheidsgeskiedenis/-agtergrondvoorbeeld: Hennie het opgemerk dat die meeste van sy bure wat honde-eienaars is elke dag lang ure werk. Sommige kere het hulle met vakansie gegaan of familiekrisisse ondervind, wat hulle dae lank van hul troeteldiere af weggehou het. Met Hennie se liefde vir honde het hy geweet hy kan die nodige troeteldierversorgingsdiens aan mense in sy gemeenskap lewer. Dit is hoe Hennie se Hondedagsorg gebore is.
  1. Los ’n spasie oop en skryf in drie tot vier sinne meer oor jou produk of diens.

Nadat jy die geskiedenis of agtergrond en bestuur van jou besigheid neergeskryf het, sal die hoofgedeelte van jou besigheidsplan begin. Die plan raak vier onderwerpe aan: 1) jou produk/diens; 2) jou besigheidsdoelstellings; 3) inligting oor jou teikenmark en mededingers; en 4) befondsingsvereistes of wins. Probeer om drie tot vier sinne vir elke onderwerp neer te skryf.

  • Jy hoef nie te veel besonderhede te gee nie – maak ’n opsomming en lig net die belangrikste inligting van elk uit.
  • ’n Voorbeeld vir ’n produk of diens: Hennie se Hondedagsorg lewer die beste troeteldierversorging vir vandag se besige troeteldiereienaar. Ons bied dagtariewe vir die binnenshuise troeteldierversorging by jou eie huis. Stapdienste word ook gratis by elke afspraak ingesluit.
  1. Los ’n spasie oop en skryf drie tot vier sinne van jou besigheidsdoelstellings neer

Bespreek die basiese doelwitte vir jou besigheid, byvoorbeeld: Hennie se Hondedagsorg streef daarna om die beste en bekostigbaarste diens in jou omgewing te lewer deur na jou troeteldiere om te sien.

  • Dit is Hennie se missie om jou gedagtes gerus te stel as jy weg van jou troeteldiere is. Hennie sal seker maak dat jou troeteldiere geliefd voel en hy sal goed na hulle omsien as jy weg moet gaan.
  • Hennie sal ’n opsomming van elke afspraak met jou troeteldier na jou toe e-pos.
  1. Los ’n spasie oop en skryf drie tot vier sinne oor jou bemarkingsinligting.

Gesels oor die tipes kliënte wat jy in gedagte het. Bespreek jou kompetisie as daar enige mededingers is, asook jou beplande bemarkingstrategieë.

  • Hennie se Hondedagsorg maak voorsiening vir vandag se besige troeteldiereienaars. Hierdie mense is sluit ook besigheidsmense in wat elke dag vir lang ure moet werk of gereeld vir werk, vakansie, of besoeke aan familie moet reis, of enigiemand wat op die laaste minuut iemand nodig het om na hul troeteldiere om te sien.
  • Die besigheid het een mededinger genaamd XXX, maar Hennie se diens bied selfs laer pryse en hy kan by jou huis na jou troeteldiere kom kyk.
  • Hennie beplan om sy besigheidspamflette oral in die gemeenskap uitdeel om sy besigheid te bemark. Hy sal ook van deur tot deur gaan om homself aan die mense voor te stel en hulle van sy diens te vertel.
  1. Los ’n spasie oop en skryf drie tot vier sinne oor jou befondsingsbehoeftes of wins neer.

Maak ’n lys van alle voorraad wat jy benodig om jou besigheid te begin, die uitgawes wat jy voorsien en die prys wat jy beplan om vir jou produk of diens te vra.

Hennie het min voorraad nodig om sy besigheid te loods: ’n Sak lekkernye vir honde, een hondeleiband vir ’n klein hond en een hondeleiband vir ’n groot hond.

  • Deurlopende uitgawes behels die aanvulling van hondelekkernye en soms hondespeelgoed en/of -komberse. Hennie vra R20 vir elke uur wat hy iemand se troeteldier versorg. Die prys om by iemand se huis na hul troeteldier om te sien, is hoër teen R250 per dag.
  • Kliënte moet hul eie kos vir hul troeteldiere voorsien, of hulle moet Hennie vergoed as hy enige kosaankope moet doen in die tyd wat hy na die troeteldiere omsien. Wins vir elke uur is ongeveer R12 ná uitgawes.
  • Wins vir elke dag van verlengde sorg is ongeveer R150 ná uitgawes.

Laai gerus gratis AfriForum en AfriForum Sakenetwerk se Besigheidsbytjiegids hier af, waar jy solank aan jou besigheidsplan kan begin werk.