Deur Leandie Bräsler

Daar is baie kinders daarbuite wat hul eie besighede het. Om met jou eie besigheid te begin, het jy eerstens ’n uitstekende idee vir ’n besigheid nodig en tweedens ’n baie goeie besigheidsplan. ’n Besigheidsplan kan ingewikkeld wees, maar dit hoef nie te wees nie: Solank jou besigheidsplan ’n paar noodsaaklikhede bevat, het jy alles wat jy nodig het om te begin. Aangesien die Maart/April-vakansie dié jaar ’n bietjie langer is as gewoonlik, kan jy sommer nou al van die ekstra tyd gebruik maak om aan jou besigheid te werk. Maak ook seker dat jy tussen 1 April en 31 Julie 2020 vir AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Dié kompetisie word aanlyn by www.besigheidbytjies.co.za aangebied en inskrywings is heeltemal gratis. Laerskoolleerders en graad 8- en 9-leerders kan hiervoor inskryf en daar is groot pryse op die spel!

In die vorige blogs het ons wenke gedeel oor hoe jy jou besigheidsidee kan ontwikkel en jou besigheid kan beplan. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou besigheid nou kan bemark:

Deel 3: Bemark jou besigheid

  1. Bepaal wie jou teikenmark is
    Skryf al die verskillende tipes kliënte neer wat jy dink by jou produk/diens sal baat vind of daarin sal belangstel. Wanneer jy ’n troeteldieroppasserbesigheid begin, sal jou kliënte tipies die mense wees wat reis vir werk, mense wat lang ure moet werk en mense wat met vakansie gaan.
  • Jy moet jou markarea oorweeg, tensy jou ouers jou kan help met vervoer indien jou markarea redelik klein is. Dit kan dan slegs areas insluit waar dit vir jou veilig sal wees om na jou bestemming toe te stap of om fiets te ry.
  • Hierdie kliënttipes word “kliënteprofiele” genoem. Sodra jy jou kliënteprofiele vasgestel het, sal jy ’n beter idee hê van hoe jy jou besigheid aan hulle kan bemark.
  • Verskillende kliënteprofiele benodig soms verskillende bemarkingstrategieë.
  1. Stel vas of jy mededingers het
    Is daar iemand anders in jou omgewing of dorp wat soortgelyke produkte of dienste bied of lewer? Indien wel, sal julle om dieselfde kliënte meeding. Hoeveel vra hulle vir hul produkte en/of diens, en hoe vergelyk hul pryse met wat jy gaan vra? Hoe sal jou produkte en/of diens beter wees as hulle s’n? Waarom moet kliënte jou besigheid bo hulle s’n kies?
  • Jy kan die doeltreffendste bemark as jy hierdie spesifieke besonderhede oor jou mededingers weet.
  • Die aanbied van laer pryse of produkte en dienste van hoër gehalte is twee wyses waarop jy kan meeding.
  • As jy byvoorbeeld ’n besigheid begin om mense se gras te sny, sal jy met gevestigde tuiniers moet meeding. Jy kan ’n kliëntebasis opbou deur ’n beter produk of diens te lewer en so ook kliënteaanbevelings aanmoedig.
  1. Verken verskillende bemarkingstrategieë
    Gaan jy adverteer deur pamflette uit te deel? Indien jy dit doen, waar gaan jy dit uitdeel? Gaan jy jou besigheid op sosiale media bemark, of deur middel van e-posse? Gaan jy jou besigheid met deur-na-deur-besoeke bemark ? Gaan jy jou eie webtuiste hê?
  • Onthou om jou kliënteprofiele in gedagte te hou wanneer jy op ’n bemarkingstrategieë besluit.
  • As jy byvoorbeeld mense se troeteldiere oppas, kan jy strooibiljette by veeartse se en troeteldierwinkels plaas of selfs uitdeel. Jy kan ook pamflette uitdeel aan mense in jou omgewing wat troeteldiere het.
  1. Maak besigheidskaartjies vir jou besigheid
    Besigheidskaartjies kom baie handig te pas en is baie professioneel. In vandag se tyd kan jy sommer besigheidskaartjies aanlyn teen ’n lae koste bestel. Jy kan selfs jou eie besigheidskaartjies maak deur drukbare besigheidskaartjiepapier te koop wat met templette kom wat jou met jou ontwerp kan help.

Laai gerus AfriForum en AfriForum Sakenetwerk se gratis Besigheidsbytjiegids hier af waar jy solank aan jou besigheidsplan kan begin werk.