Deur Lizán Maree

Entrepreneurskap is ’n baie groot woord, maar dit is nie net vir grootmense nie. Dalk is kinders selfs nog meer ingestel op hulle ingebore entrepreneuriese vaardighede as volwassenes. Kinders steur hulle bietjie minder aan reëls, en besef nie noodwendig die risiko van die kanse wat hulle vat nie, of is minder gepla daaroor omdat hulle nie soveel het om te verloor nie. Kinders is oor die algemeen kreatief en innoverend, met ’n ryk verbeelding. Kinders het ook ’n natuurlike vermoë om te onderhandel – dink maar net aan al die redenasies wanneer dit slaaptyd is… Hierdie is alles vaardighede wat ’n belangrike rol speel in entrepreneurskap, en wat dikwels bietjie vervaag soos wat mense ouer word. So, is entrepreneurskap ingebore?

Ek onthou op laerskool het my boetie teen die einde van die jaar ’n sak uitveërs, skerpmakers, liniale, penne en potlode bymekaargemaak soos wat hy met maatjies onderhandel het. Dieselfde het gebeur met albasters – na ’n kwartaal het hy so gewoeker dat sy een albaster ’n hele sak vol geword het. Hy is ’n gebore entrepreneur wat ’n Eskimo kan oortuig om ys te koop. Volgens Peter Ryding (Treanor, 2013) is entrepreneurskap 70% ingebore, 10% aangeleer en 20% opleiding. Dit help egter nie iemand word met hierdie vaardighede gebore, maar word nie geleer hoe om dit reg te gebruik nie. Daarom is die aangeleerde deel van entrepreneurskap ook belangrik.

By my laerskool was daar klein “stalletjies” by die tennishuisie beskikbaar gestel wat kinders kon huur om pouses as ’n tipe winkel te gebruik. Dit was hier waar ek van entrepreneurskap geleer het. Die een ding van laerskoolkinders is dat eetgoed altyd verkoop, en daarom het my onderneming fudge en klapperys verkoop. My ma het my gehelp en geleer van kapitaal om bestanddele te koop, hoe om die soetgoed te maak, hoe om te bereken wat elke blokkie jou gekos het, hoe om dit mooi te verpak en waarvoor om dit te verkoop sodat jy wins kan maak. Ek het ook geleer mens kan maklik jou wins opeet as jy en jou maatjies nie betaal vir julle eie blokkies fudge nie!

Vandag is nie ek of my boetie voltydse entrepreneurs nie. Tog gebruik ons baie van die vaardighede wat ons as entrepreneurs geleer het in ons werk. Vaardighede soos om altyd op die uitkyk te wees vir geleenthede, en om uitdagings te sien as trapklippe eerder as struikelblokke, help mens om uit te staan in die werk wat jy doen, ongeag of jy ’n entrepreneur is of nie.

In ’n ekonomie waar werkloosheid ’n groot probleem is, is entrepreneurskap veral belangrik omdat klein ondernemings ’n groot bydrae tot die ekonomie lewer. Volgens die Companies and Intellectual Property Commission (CIPC)is daar in 2020 32% meer nuwe maatskappy in Suid-Afrika geregistreer as in 2019 (Ryan, 2021). Dit bevestig dat moeilike ekonomiese tye, entrepreneurs en klein ondernemings kweek. Daarom is entrepreneurskap vir kinders baie belangrik – dit mag dalk hulle enigste opsie wees eendag.

Ouers speel ’n baie belangrike rol in hierdie ontwikkeling van kinders as entrepreneurs. Veral in ’n omgewing waar beide ouers voltyds werk en kinders aan die veiligheid en sekuriteit van ’n vaste salaris met pensioen-, mediese en ander voordele blootgestel word, is die geneigdheid tot “natuurlike” entrepreneurskap kleiner. Hier is ’n paar eenvoudige wenke vir ouers om kinders te help met entrepreneuriese vaardighede en gedrag:

  • Wanneer jou kind met ’n besigheidsidee na jou toe kom, help hulle om doelwitte en ’n aksieplan vir die onderneming op te stel, ongeag of jy dink dit is ’n goeie besigheidsidee of nie.
  • Iets so ontwrigtend soos om na ’n nuwe huis te trek, toon voordelig te wees vir kinders wat later entrepreneurs word. Indien so ’n groot verandering nie moontlik is nie, probeer om op nuwe plekke vakansie te gaan hou eerder as elke jaar by dieselfde plek. Selfs ’n klein verandering in roetine soos om verskillende paaie skool toe te ry, kan kinders leer om gemaklik te wees met ontwrigting en ook om nuwe geleenthede raak te sien.
  • Indien jy nie jou eie onderneming besit of self ’n entrepreneur is nie, maak seker dat jou kind blootstelling kry daaraan. Miskien is daar ’n familielid of vriend met wie hulle kan gesels of by wie hulle vakansies kan tyd spandeer om te sien hoe ’n eie onderneming en entrepreneurskap werk.
  • Alhoewel dit ouers se instink is om kinders te beskerm, moet entrepreneurs leer om mislukkings te oorkom. Gun jou kinders die ruimte om hulle eie foute te maak, en daaruit te leer. Help hulle om te ontleed wat verkeerd gegaan het, en ’n nuwe plan van aksie in plek te stel. Leer hulle verstaan dat die entrepreneur nie ’n mislukking is omdat die onderneming gefaal het nie.

Een van die belangrikste eienskappe van entrepreneurskap is harde werk. Maak dit ’n gewoonte om altyd jou beste te gee in alles wat jy aanpak, en veral in dinge wat nie vir jou lekker is nie. Kyk vir geleenthede waar jy iets nuuts kan leer of probeer. Wanneer jy iets doen, konsentreer voluit daarop sodat jy dit kan afhandel, en weer al jou aandag aan die volgende taak kan gee. Leer om jou tyd optimaal te gebruik. Vra vrae oor wat jy doen. Is hierdie die beste manier, die vinnigste manier, die maklikste manier? Baie nuwe ondernemings en idees het juis ontstaan omdat mense die huidige maniere bevraagteken het.

’n Groot deel van entrepreneurskap is die neem van risiko. Dit is hier waar ek en my boetie verskil, en ook wat van hom ’n beter entrepreneur maak as wat ek is. Mens moet leer om te kan sien wanneer ’n risiko te groot is, en iets dalk nie gaan werk nie. Maar as jy altyd gaan wag vir alles om sin te maak, gaan jy waarskynlik nooit geleenthede aangryp nie. Leer om na die stemmetjie in jou kop te luister, en vertrou jou instink! Entrepreneurs leer om hulle ingebore vaardighede te kombineer met hulle aangeleerde tegnieke, sodat hulle deur harde werk hulle passie kan uitleef en hulle drome kan bereik.

Bronne:

Ryan, C. 2021. Record number of new company registrations in 2020 is a distress signal. Beskikbaar op https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/record-number-of-new-company-registrations-in-2020-is-a-distress-signal/. Geraadpleeg op 20 Augustus 2021.

Treanor, S. 2013. Are entrepreneurs born or can they be taught? Beskikbaar op https://www.bbc.com/news/business-23157638. Geraadpleeg op 20 Augustus 2021.