Deur Alta Strauss

Daar is verskeie redes waarom dit belangrik is om alreeds van ’n jong ouderdom af entrepreneurskapvaardighede vir kinders te leer. Een van die redes hiervoor is dat hierdie lewensvaardighede ’n deurslaggewende rol speel in elke ander area van kinders se lewens en hul toekoms. Net soos enige ander lesse of vaardighede, hoe vroeër dit vasgelê word, hoe beter. Dit slyp kinders se karakter en rat hulle vir die toekoms.

Die ander groot voordeel van entrepreneurskapinisiatiewe soos Besigheidsbytjies is dat dit ’n geleentheid en platform skep vir kinders wat moontlik nie andersins die geleentheid sou kry om finansiële bestuur en besigheidsvaardighede aan te leer nie. Alhoewel daar wel kinders is wat bevoorreg is om in huishoudings groot te word waar ouers hul eie ondernemings bestuur of self entrepreneurs is, is dit steeds male sonder tal nie die geval nie.

Die afgelope dekade doen skole ook al hoe meer om finansiële onderrig aan leerders te gee, maar dit is inisiatiewe soos hierdie wat aan die leerder die nodige praktiese ervaring gee van wat dit beteken om ’n entrepreneur in praktyk te wees. Ervaring bly steeds die doeltreffendste leermeester.

Deur deel te neem aan inisiatiewe soos Besigheidsbytjies leer kinders baie belangrike vaardighede aan soos besigheidsbestuur, spanwerk, leierskap, effektiewe kommunikasie- en luistervaardighede, finansiële vaardighede, probleemoplossingsvaardighede, kritiese en strategiese denke en beplanning. Wat goed is vir besigheid, maar wat leerders ook kan toepas in alle ander areas soos studies, tydbestuur, aktiwiteitsbestuur en selfs die bestuur van hul eie sakgeld.

Ander belangrike eienskappe wat ook in leerders gekweek word om hierdie vaardighede te ondersteun, is onder meer empatie, goeie menseverhoudinge, ’n ondersoekende en nuuskierige ingesteldheid, aanpasbaarheid, kreatiwiteit en gesonde selfvertroue.

Kinders word daardeur ook geleer om verantwoordelikheid te neem vir hul toekoms. Dit is ons verantwoordelikheid om kinders aan te moedig om te glo in ’n beter toekoms en dat hulle oor die vermoë beskik om die toekoms te verbeter.

Moet nooit ’n kind van sy of haar drome beroof nie. As jy dit kan droom, kan jy dit doen.