Leandie Bräsler

Dit is binnekort Kersfees: die tyd van gee. Pleks daarvan om ons kinders slegs te leer om aardse geskenke te ontvang en gee, kan ons hulle ook leer om emosionele geskenke te gee deur om te gee.

Volgens ’n artikel van die Harvard Graduate School of Education se Making Caring Common-projek toon navorsing dat die saadjies van omgee, empatie en medelye vroeg reeds in ons ontwikkeling geplant word. Kinders het egter volwassenes nodig om hulle te help om etiese mense te word wat vir hul medemense omgee. Dié ondersteuning moet met elke lewensfase gebied word om te verseker dat die sade gevoed word om ten volle te kan groei.

Ons moet omgeeharte by kinders kweek omdat dit die regte ding is om te doen. Wanneer kinders empatie met ander het of verantwoordelikheid vir ander neem, sal hulle self waarskynlik gelukkiger en suksesvoller wees. Hulle sal ook beter verhoudings met ander mense hê, wat ’n belangrike bestanddeel van geluk is. In die hedendaagse werkplek hang sukses dikwels daarvan af of jy doeltreffend met ander kan saamwerk. Net so is kinders wat empaties is en ’n gesonde sosiale ingesteldheid het beter medewerkers. Emosionele intelligensie speel ’n belangrike rol in vandag se samelewing.

Hier is die sewe riglyne wat Harvard-projek gee om jou te help om kinders groot te maak wat met empatie, respek en ’n omgeehart leef:

Ontwikkel ’n omgeeverhouding met jou kind

Maak seker dat jy tyd maak om ’n verhouding met jou kinders te bou waarin emosies en intimiteit sentraal is. Jy kan byvoorbeeld saam met hulle speletjies speel of vir hulle stories lees voordat hulle gaan slaap. Dit is baie belangrik om sulke kosbare tyd saam met jou kind te bestee, want dit bou vertroue en gesonde ouer/kind-verhoudings. Vra hulle uit oor hoe hulle dag by die skool was en gee hulle genoeg tyd om hulle hul stories te vertel. Die vertroue wat jy bou kan hulle ook help wanneer hulle byvoorbeeld geboelie word, want hulle sal meer bereid wees om met jou daaroor te gesels. Groter probleme kan op dieselfde wyse verhoed word.

Wees ’n rolmodel vir jou kind

Jy kan ’n rolmodel vir jou kind wees as jy leef en doen wat jy sê. Wanneer jy met nederigheid en eerlikheid leef, sal jou kind ook dié eienskappe aanleer en net soos jy wil wees en leef. Wees ’n voorbeeld vir jou kind deur byvoorbeeld dienste in jou gemeenskap te lewer of by liefdadigheidsprojekte betrokke te raak. Julle kan byvoorbeeld saam kospakkies by behoeftige mense gaan aflewer of vir bejaardes in die aftreeoord gaan kuier.

Maak omgee ’n prioriteit en stel hoë etiese verwagtinge

Dit is belangrik dat jou kind weet hoe belangrik omgee is. Pleks daarvan om net op hul eie geluk te fokus, is dit ook belangrik dat hulle moet weet dat hul altyd vriendelik met ander moet wees. Vriendelikheid kos niks nie. Dit is ook ’n karaktereienskap wat kan help om boeliegedrag in skole en in die samelewing hok te slaan. Tree ook met ’n omgeehart teenoor ander volwassenes op sodat jou kind jou voorbeeld kan volg en ook só kan optree.

Gee jou kinders die geleentheid om omgee en dankbaarheid in te oefen

Jy kan jou kind help om omgee te oefen, want omgee is soos ’n spier wat ingeoefen kan word en al hoe sterker word hoe meer jy daarop fokus om vir ander om te gee. Pleks daarvan om altyd net te wil hê, is dit belangrik dat ons vir ons kinders leer om ook daagliks na te dink oor dit waarvoor ons dankbaar is. Hulle sal vinnig leer om hul seëninge te tel en dat daar iewers iemand anders is wat nie so bevoorreg is soos hulle nie, byvoorbeeld kinders wat nie kan skoolgaan nie of  in plakkerskampe bly.

Maak jou kind se omgeekring groter

Leer jou kind dat luister een van die belangrikste vaardighede is om empatie met ander te hê of om vir hulle om te gee. Dit leer ons om ook aan ander mense te dink en om te besef dat elkeen besig is om hul eie gevegte te veg. Moedig jou kind aan om altyd ’n vriend te wees, nie net vir die maats in hul onmiddellike vriendekring nie, maar ook vir die maats buite dié kring: ’n nuwe kind in die skool, ’n kind wat afgeknou word of ’n kind wie se ouers besig is om te skei. Dit leer hulle ook om buite hul gemaksone te kan wees en selfvertroue te ontwikkel. Leer jou kinders om hierdie omgee in aksies te omskep deur byvoorbeeld ’n klasmaat te troos wat geterg of afgeknou word of na ’n nuwe kind in die skool uit te reik.

Leer jou kind om eties te dink en positiewe veranderinge in hul gemeenskappe teweeg te bring

Leer jou kind om probleme raak te sien, byvoorbeeld ’n kind in die skool wat nie kos het nie. Dit sal hulle ook leer om nie net aan hulself te dink en dus selfsugtig op te tree nie, maar om ook aan ander te dink. Leer jou kind om aksie te neem en om betrokke te raak, deur byvoorbeeld hul kos met ’n kind te deel wat geen kos het om by die skool te eet nie. Leer jou kind veral om sulke probleme saam met iemand anders op te los, byvoorbeeld deur ’n maat te vra om te help om elke dag kos te bring vir ’n honger maatjie, of om ’n ekstra toebroodjie in te pak.

Help jou kinders om selfbeheersing te ontwikkel en hul gevoelens doeltreffend te bestuur

Help jou kinders om hul emosies te identifiseer, byvoorbeeld hartseer, gelukkig, kwaad of gefrustreerd. Jy kan gebruik maak van emotikons: Hulle kies dan die gesiggie wat by hulle emosie pas. As hulle gespanne voel, kan hulle die stappe volg wat in die hulpbrongids vir COVID-19-inperking en ander krisistye uitgestip word: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/2020/05/COVID-19-GIDS_Ouers-onderwysers-en-kinders_Finaal_6-Mei-2020.pdf).

  1. Ontspan in ’n gemaklike posisie op jou bed, op die vloer, in ’n gemaklike stoel of waar ook al jy graag wil sit.
  2. Asem in en uit deur jou neus. Trek jou asem diep in tot in jou maag – nie net tot in jou bors nie. Verbeel jou jy lê plat op jou rug met ’n voorwerp op jou bors en een op jou maag. Met jou asemhaling moet jy die voorwerp op jou maag op en af laat beweeg terwyl die voorwerp op jou bors bewegingloos bly.
  3. Jy kan jy jou hande op jou maag sit om jou asemhaling daarheen te help “lei”.

Dis nie altyd maklik om ’n etiese kind groot te maak wat omgee nie, maar dit is iets wat almal van ons kan doen. Geen werk is belangriker of uiteindelik meer lonend as om ’n omgeekind groot te maak nie.

Bron: Harvard Graduate School of Education. 2018. 7 tips for raising caring kids. Beskikbaar by https://mcc.gse.harvard.edu/resources-for-families/7-tips-raising-caring-kids.