AfriForum het op 4 Februarie 2021 by die Centurion Christelike Laerskool in Centurion besoek afgelê met hulle junior entrepreneursopleidingsprogram wat as deel van die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aangebied word. Hierdie opleiding berei kinders voor vir entrepreneurskap, help hulle met die opstel van ’n besigheidsplan en beklemtoon die belangrikheid daarvan, en verskaf ook inligting oor hoe die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie werk.

AfriForum het in 2019 besluit om die aanlyn kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Vanjaar is daar besluit om die kompetisie verder uit te brei sodat hoërskole ook aan die entrepreneurskompetisie kan deelneem. Besigheidsbytjies se Juniorpreneurs-kategorieë is vir alle hoërskoolleerders van graad 8 tot graad 12 wat ’n talent het vir besigheid.

“Die doel van hierdie kompetisie is om jong kinders se entrepreneursvaardighede van vroeg af te ontwikkel. AfriForum glo die Besigheidsbytjies- en Juniorpreneurskompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms en hul kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskapsontwikkeling.

“Centurion Christelike Laerskool streef daarna om meer as die gewone te bied. Die formele kurrikulum ontbreek baie keer die nodige inhoud om leerders voldoende voor te berei vir die toekoms. Ons het besluit om ons kurrikulum te verryk deur entrepreneursvaardighede te ontwikkel by ons leerders. Dit dien nie net as ’n hulpmiddel om te leer om eendag onafhanklik en selfstandig te wees nie, maar ontwikkel ook kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede. Ons is geweldig dankbaar vir Afriforum se betrokkenheid by ons skool. Die aanbieding het leerders opgewonde en entoesiasties gelaat en het ’n goeie fondasie gelê waarop ons die program kan uitbrei,” meen Riandi Robertse, onderwyseres by die Centurion Christelike Laerskool.

Vanjaar se aanlyn Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie open op 13 April 2021 en sluit op 5 Oktober 2021. Die wenners sal op 1 November 2021 aangekondig word. Meer inligting volg binnekort op Besigheidsbytjies se webtuiste: www.besigheidsbytjies.co.za.