AfriForum het op 7 Mei 2021 besoek by die Laerskool Muldersdrif afgelê met hulle entrepreneursopleidingsprogram wat as deel van die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aangebied word. Hierdie opleiding berei leerders vir entrepreneurskap voor, help hulle met die opstel van ’n sakeplan en beklemtoon die belangrikheid daarvan, en verskaf ook inligting oor hoe die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie werk.

AfriForum het in 2019 besluit om die aanlyn kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Vanjaar is daar besluit om die kompetisie verder uit te brei sodat hoërskole ook daaraan kan deelneem. Besigheidsbytjies se Juniorpreneurs-kategorieë is vir alle hoërskoolleerders van graad 8 tot graad 12 wat ’n aanvoeling vir besigheid het.

“Die doel van hierdie kompetisie is om jong kinders se entrepreneursvaardighede van vroeg af te ontwikkel. AfriForum glo die Besigheidsbytjies- en Juniorpreneurskompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms en hulle kan hoop skep deur reeds van ’n jong ouderdom af aan hulle toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het die voorreg gehad dat AfriForum se Besigheidsbytjiesspan ons leerders kom toespreek het. Ons leerders van graad 3 tot graad 7 het baie inligting ontvang wat hulle beslis geprikkel het om by entrepreneurskap betrokke te raak. Entrepreneurskap is deel van die EBW-kurrikulum in graad 7 en ons het dit goedgedink om ons kinders juis meer aan te moedig deur middel van AfriForum se entrepreneursopleidingsprogram. Die aanbieding is baie professioneel op ’n verstaanbare vlak aangebied waar leerders ook aan die gesprek kon deelneem. Ons beveel die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie vir alle skole aan en moedig leerders aan om daarby betrokke te raak. Sodoende kan leerders hulle algemene kennis verbreed en die geleentheid kry om vir hulself ’n toekoms te skep,” meen Herman Byleveld, hoof van die Laerskool Muldersdrif.

Vanjaar se aanlyn Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie het op 13 April 2021 geopen en sluit weer op 5 Oktober 2021. Die wenners sal op 1 November 2021 aangekondig word. Besoek Besigheidsbytjies se webtuiste by www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting.