Daniel Jacobs van Pretoria het in 2021 aan AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie deelgeneem en met die tweede prys weggestap in kategorie 1 (graad 1–3). Hy is ’n jong hoenderboer en sy onderneming staan bekend as Die Jong Boer se Hoendereiers.

Daniel se keuse van hoenders is lêhoenders, want hy is baie lief vir diere en glo dat dit belangrik is dat diere/pluimvee gelukkig en gesond moet wees. Die ras waarmee hy boer is Potchefstroom Koekoek en Hy-lines. Hy verkoop die eiers van vrylopende hoenders aan vriende, familie en die plaaslike gemeenskap, terwyl hy reeds sy eie webtuiste het en hard werk om dit selfs verder te verbeter deur ander produkte soos hoenderstellasies, mieliemeel en vele ander te verkoop. Daniel oorweeg dit ook om klein intieme toere vir laerskoolkinders op hulle kleinhoewe te hou. Dit sal gevolglik aan ander kinders die geleentheid bied om van hoenders te leer en hulle kan dan self van die eiers gaan uithaal. Hopelik raak hulle dan ook gereelde kliënte.

“Die eiers is afkomstig van vrylopende hoenders en my verkoopsprys is baie billik. Jy kry dus ’n gesonde, goeie gehalte eier teen ’n bekostigbare prys direk vanaf Die Jong Boer,” sê Daniel.

AfriForum wou graag ’n bietjie meer van hierdie hoenderboer weet en daarom het ons vir hom ’n paar vrae gevra:* Hoe oud is jy en waar gaan jy tans skool?

Ek is nege jaar oud en gaan skool by Nukleus Onderwys.

  • Waar het jou liefde vir hoenderboerdery ontstaan?

Dit het gebeur toe ons buurman vir my drie hoenders gegee het wat toe eiers begin lê het. My ouma en oupa wou toe eiers by my koop en van daar af het my boerdery uitgebrei en gegroei.

  • Hoeveel hoenders het jy tans?

Ek het 105 hoenders.

  • Watter hoender is jou gunsteling en waarom?

Cheer Potchi, want sy volg my die heeltyd. Haar vere is ook baie sag en sy is net ’n vrolike hoender.

  • Watter hoender is jou oudste hoender waarmee jy boer?

Ouma Grys en Ouma Baard is my twee oudstes.

  • Waar sien jy jouself oor tien jaar?

Ek sien myself as ’n suksesvolle hoenderboer met baie meer hoenders en baie meer kliënte. My doel is om in die volgende twee jaar my besigheid te verdubbel en daarmee tesame my koste per eier af te bring. Ek het reeds begin om met meelwurms en gars te boer, wat aansienlik help met die voerkoste. Binne die volgende ses maande gaan ek ook my eie blaarslaai en komkommers reg hê om te pluk en as hoendervoer te gebruik.

  • Indien die publiek jou wil ondersteun, hoe kan hulle jou kontak?

Besoek my webtuiste by www.diejongboer.co.za of stuur ’n e-pos na diejongboer@gmail.com.

  • Wat maak jy met die inkomste wat jy verdien?

Ek betaal my hoenders se koste, soos die kos wat hulle eet, en spaar die res.

  • Het jy enige raad vir ander jong boere wat entrepreneurs wil wees?

Jy moet jou passie volg en nooit opgee nie. Jy moet lief wees vir wat jy doen en as iets nie uitwerk nie, probeer iets anders. Harde werk is baie belangrik!

Hierdie jong hoenderboer is die inspirasie agter die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie se jongste kategorie, naamlik die Saai-kategorie. Hierdie kategorie fokus op jong entrepreneurs met ’n liefde vir landbou.

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) is ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder.

AfriForum en Saai wil jong boere bemagtig en ’n platform bied om al op ’n jeugdige ouderdom die entrepreneuriese wêreld te ervaar, asook om die nodige kennis en vaardighede te ontwikkel om in die toekoms, as volwasse boere, suksesvolle sake-eienaars te wees.

Enige kind, van graad 1 tot graad 12, kan vir hierdie kategorie inskryf indien hulle onderneming in die terrein van landbou val. Daar is groot pryse op die spel!

Dié aanlyn entrepreneurskompetisie open vanjaar op 5 April en sluit weer op 11 Oktober. Jong entrepreneurs kan inskryf by www.besigheidsbytjies.co.za. Die wenners word op 1 November 2022 aangekondig.

Meer inligting volg binnekort.