Deur Sarina Bosman (Pretoria FM)

Ek onthou hoe ons op laerskool elke nou en dan entrepreneursdae gehou het. Dit was hope pret, en het daarin geslaag om ons as jong kinders vier baie belangrike dinge te leer, naamlik om met ’n idee vorendag te kom, marknavorsing te doen, om dan jou idee ’n werklikheid te maak, en hoe om met geld te werk.

In graad een wou ek vreeslik graag ’n rooi plastiekroos by een van die graad sewes koop, maar die roos het R5 gekos en ek het net R1,50 gehad. Sy het my seker jammer gekry en die roos wel teen R1,50 aan my verkoop, maar daardie dag het ek geleer hoe belangrik dit is om geld te spaar om die dinge wat jy graag wil hê, te kan bekostig. Selfs op daardie jong ouderdom het ek sleg gevoel om die roos te vat wat ek duidelik nie kon bekostig nie. Dit is ’n lewensles wat ek tot vandag toe toepas.

Verder onthou ek ook watter oulike idees die kinders gehad het. Elke jaar was die spuitnaalde vol kondensmelk natuurlik ’n hoogtepunt, omdat dit heerlike watergewere geword het sodra die kondensmelk klaar was. Vet pret! Daar was ook elke jaar kinders wat slim tuisgemaakte produkte verkoop het en op dié manier meer geld in hul sakke gesteek het.

Ek het een jaar tuisgemaakte boekmerke verkoop. Ek het besef dat al my maats boeke lees, dus is daar reeds ’n teikenmark. Dit het my minder as R10 gekos om verskillende kleure papier te koop, mooi Bybelversies of aanhalings daarop te skryf, met ’n oulike prentjie en dit te lamineer (my ma het reeds ’n lamineermasjien gehad). Ek het elke boekmerk verkoop vir R10 en het daardie jaar meer as R250 wins gemaak, wat baie is vir enige laerskoolkind. Wys jou net, as jy jou marknavorsing doen en weet wat jou teikenmark is, het jy reeds ’n goeie kans op sukses!

Kyk, entrepreneurskap is belangrik omdat dit jou in staat stel om na jouself om te sien. As jy jou eie onderneming bedryf, is jy nie afhanklik van ’n baas wat jou salaris moet betaal nie. Dus, hoe harder jy werk, hoe groter is jou kans om suksesvol te wees. In ’n land soos Suid-Afrika waar die politiek en ekonomie daagliks ’n wipplankrit is, is dit goed om te weet dat jou toekoms tot ’n mate in jou eie hande is. Boonop, as jy eers entrepreneursvaardighede het, kan jy dit in meeste situasies toepas.

Ek dink een van die belangrikste vaardighede wat enige entrepreneur moet hê, is om deurgaans te vernuwe. Evalueer en herevalueer jou onderneming gereeld. Vra, “hoe kan ek dit wat ek nou doen verbeter?” en “waarna is my kliënt op soek?”, en maak seker dat jy die antwoorde op daardie vrae gebruik om te groei – nie net jou onderneming nie, maar ook as mens. Soos vroeër genoem, leef ons in ’n land waar dinge onseker is. Die vermoë om te kan aanpas en vernuwe, sal maak dat jou onderneming met tyd sy doeltreffendheid bewys.

My raad aan enige kind wat ’n suksesvolle entrepreneur wil wees. Moet nooit ophou leer nie! Lees so veel as wat jy kan oor ander mense se ondernemings, leer by hulle. Lees oor ander idees. Lees oor nuwe tegnologie, bemarkingstegnieke en wat ook al. Kyk video’s om te sien wat ander mense doen. Vind rolmodelle en leer hoe hulle dit regkry om suksesvol te wees. Hoe meer jy lees, hoe meer kan jy leer en hoe makliker sal dit vir jou wees om ook aan te pas soos jou idee en onderneming ontwikkel.